WATERTUINE
Water is hipnoties en betowerend en is sedert die vroegste tye ‘n basiese kenmerk van byna elke tuin. ‘n Natuurlike dammetjie skep byvoorbeeld ‘n gevoel van rus en vrede. Water is ‘n deel van die tuin. Dit weerspieël alles daaromheen en skep so ‘n derde dimensie. Die kalmerende geluid van bewegende water en die lewe wat dit lok en onderhou, maak die watertuin net so onmisbaar soos ‘n patio of ‘n grasperk. ‘n Goed ontwerpte, weerkaatsende dammetjie is ‘n bate in enige tuin. Dit kan ‘n doodgewone tuin in ‘n buitengewone vertoonstuk omskep.
POSISIE.
Die beste posisie vir ‘n waterverfraaiing sal deur sy styl en funksie bepaal word. Jy sal ongetwyfeld ‘n plek kies wat duidelik sigbaar is, van waar jy die meeste van jou tyd deurbring, en as jy die geluid van water wil hoor sal die waterverfraaiing naby jou leefarea moet wees. As jy byvoorbeeld natuurlewe na jou tuin wil lok, sal ‘n informele dammetjie of vleituin op ‘n afgesonderde, laagliggende en sonnige plek ideaal wees.
POTTE.
Potte is ‘n baie gerieflike manier om plante vir patio’s, swembaddens, balkonne, stoepe, binnehowe en klein areas soos meenthuistuine te plant. Kweking in houers is die kuns om plante in ‘n kunsmatige omgewing te kweek en is geskik vir feitlik elke plant en posisie. Dit het die afgelope jare ‘n baie opwindende manier van tuinmaak geword vanwee die groot verskeidenheid vorms en groottes, teksture, material en plante wat beskikbaar is. Om in houers te plant is dikwels die enigste manier met spesifieke grondbehoeftes of om in dorre streke te kweek. Dit is ook baie makliker om potplante water te gee en om die pot na gelang van die seisoenale klimaat, na ‘n ander plek te verskuif. Potte word wyd gebruik om aan ‘n spesifieke plek karakter te gee, byvoorbeeld aan weerskante van ‘n ingang, aan die bopunt of voet van ‘n trap, of teen ‘n donkergroen agtergrond. Eksklusiewe potte kan ook met groot effek as fokuspunt in die tuin gebruik word. Potte kan op feitlik elke plek in die tuin gebruik word en sal by enige tuinstyl pas, aangesien daar so baie verskillende ontwerpe beskikbaar is.
DIE KEUSE VAN JOU DESERT POT.
Volg hierdie basiese beginsels wanneer jy plante in houers op hul beste wil laat vertoon.
• Die houer moet geskik wees vir die plant se groeiwyse, met ander woorde, die pot moet groot genoeg wees vir die betrokke plant. Moenie byvoorbeeld probeeer om plante groter as eenjariges, bolplante of meerjariges in ‘n bak te kweek nie, of ‘n floribundaroosstruik in ‘n pot kleiner as 45 cm in deursnee te kweek nie.
• Die plant moet in die korrekte verhouding tot die grootte van die houer wees, wat een derde moet wees van die algehele hoogte en deursnee van die plant en houer saam.
• Kies n natuurlike kleur wat met die omgewing saamsmelt. Die funksie van die houer is om die plant op sy beste te laat uitstaan, dit moenie met die plant meeding nie.
• Moenie probeer om soveel as moontlik houers in ‘n sekere area te laat pas nie, plaas hulle liewer vêr uitmekaar sodat elke plant tot sy reg kan kom. Groepeer hulle volgens vorms en kleur, probeer om nie te veel verskillende vorms, materiale en kleure te meng nie.
• Om jou te help om die regte grootte houer te kies – soos byvoorbeeld ‘n klassieke pot – wat ‘n fokuspunt moet wees, moet jy stene opstapel op die plek waar die pot moet kom en stene bysit of wegvat totdat jy die korrekte verhoudings het.
• Maak seker dat die houer wat jy wil beplant ‘n groot genoeg gat vir dreinering in die bodem het.
• Gebruik die korrekte grootte druppan of potpote binneshuis en op spesiale potioteëls buite. Potte lyk baie beter sonder druppanne want ‘n te groot druppan kan lelik lyk. Water gaar ook tydens en na reën in hulle op wat die pot deurweek laat raak.
• Groepeer houers volgens die plante en volwasse grootte, met die hoër plante agter of in die middel en die korter plante voor of aan die kante.
|